top of page

Toe als groen was: boekbekendstelling

Writer's picture: An-Mari do CarmoAn-Mari do Carmo


My eerste boekbekendstelling was 'n ongelooflike dag en, dink ek, 'n reusesukses.


Die geleentheid is op Saterdag 4 Junie 2022 by From Shack to Sanctuary in Klerksdorp gehou saam met Klerksdorp Record en LifeFM. Ferdie Swanepoel, Stefaans Coetzee en almal daarby betrokke het so baie moeite gedoen en die venue het pragtig gelyk. Ongelukkig kon ons nie borge kry vir die verversings nie, maar my familie en my kerk het ingespring en mense het met borde en borde heerlike eetgoed opgedaag, wat deur my ma pragtig uitgepak is op die tafels.


Omtrent 80 mense het die dag bygewoon, en van my vriende het van so ver as Reitz, Jacobsdal en Pretoria gery om daar te wees. Die aantal mense wat daar was om my te ondersteun en omdat hulle belangstel in my boek was oorweldigend! Ongelukkig kon niemand van my uitgewery die dag bywoon nie omdat dit vir hulle 'n bietjie te vêr was.


Salomé Kotze van die Klerksdorp Record sowel as LifeFM het die gesprek gelei en ons het heerlik gesels oor die boek en KwaSizabantu sending, waarop die boek gebaseer is. Daarna het Ferdie Swanepoel ook meer vertel oor kultusse oor die algemeen: hoe om een raak te sien, en die kenmerke daarvan wat in Toe als groen was herkenbaar is.


Ná die gesprek was daar geleentheid vir vrae, en toe kon mense die boek koop, verversings geniet en kom gesels. Dit was so lekker om soveel mense te ontmoet of weer te sien - en ek het dosyne handtekeninge uitgedeel met my spesiale groen pen. Ander skrywers van die omgewing, soos Cecilia Steyn en Cliffordene Norton, was ook daar - sowel as my Graad 1-juffrou wie my leer lees het. My man en my naaste familie was natuurlik my grootste ondersteuners, en byna die helfte van my kerk was daar vir die dag! En nog eregaste was Zoë Havenga, my voorbladmodel, en Mejandra Pretorius, die voorbladfotograaf! Selfs Renthia Buitendag wat die boek se pragtige bladuitleg gedoen het was daar saam met haar dogter.


Die terugvoering ná die geleentheid was oorweldigend positief - almal het die dag baie geniet en 'n paar mense het my reeds daardie aand of die volgende oggend laat weet hulle het Toe als groen was begin lees, en kan nie ophou nie.


Die beste nuus? Sanctuary het 64 uit die 70 boeke wat daar was verkoop! Ek voel so ongelooflik geseënd en bevoorreg deur die sukses van die dag, en ek weet dis net my Hemelse Vader wat alles ten goede laat meewerk het.


'n Groot, groot, dankie aan almal wat die dag moontlik gemaak het!

Venue: From Shack to Sanctuary / LifeFM

Gesprek: Salomé Kotze

Koffie en tee borg: LAPA Uitgewers

Verversings: my familie en Klerksdorp Baptist Church

Fotografie: Mejandra Photography

Videografie: Deirdré en Stefaans Coetzee

Haarstilis: Lorraine Bester by Fringe Hair

Naeltegnikus: Lindie Hanekom by Pure Beauty

 

Video's


Vir die video soos regstreeks uitgesaai op Life FM, klik hier.

Vir 'n kort video met die hoogtepunte van die dag, klik hier.


 

Foto's


Hier is die foto's van die geleentheid, geneem deur die talentvolle Mejandra Photography!





Recent Posts

See All

Comments


bottom of page