top of page

Net na die storm

1 Augustus 2026 | LAPA

’n Skooluitstappie was nog nooit so dodelik nie.

Chloe en haar klasmaats, Mbali en Dante, is saam met twee onderwysers op ’n skooltoer in KwaZulu-Natal toe swaar reën en dreigende vloede hulle dwing om die gebied te verlaat. Maar die oorhaastige vlugtog laat hulle net in nog groter gevaar beland.

Nou, gestrand in ’n beboste vallei met net ’n paar blikkies kos, ernstige beserings en geen werkende selfone nie, moet die groep teen die natuur en hulleself baklei om te oorleef tot hulp kom … ás dit kom.

’n Naelbyt-oorlewingsavontuur wat tieners op die punt van hul stoel gaan hou!

net na die storm - voorblad

Lees meer op Goodreads

Gratis Uittreksel

Chloe leun nader aan die venster. Dit reën nog liggies, maar die kwaai, donker wolke van vroeër is weg. Op ’n paar heuwels ’n ent voor hulle skyn die son selfs. Sy was nog nooit so bly om dit te sien nie. 
Hulle ry met ’n brug oor ’n skool: skaars herkenbaar, die sportvelde lyk soos damme. Net die rugbypale dui aan wat dit is. 
Dante klim uiteindelik agter sy kaart uit, sy vinger op die plek waar hulle nou is. “Julle, ek het ’n slegte gevoel.” 
“Jy het altyd,” sê Mbali. 
“Nee, regtig. Ons is nou in die vloedgebied, reg tussen twee laagwaterbrûe. As dit oorstroom, is ons hier vasgekeer.” 
Mbali leun vorentoe en loer oor Chloe se skoot na waar Dante op die kaart wys. “Die pad is nog oop, so, ons gaan begin klim en vinniger uit die vloedsone beweeg. Ons is fine, Dante.” 
Meneer se selfoon, op die paneelbord staangemaak, lui nét toe hulle by ’n rooi lig stilhou. Hy loer vinnig daarna. “Dis die skoolhoof,” sê hy vir hulle en skakel die foon oor na luidspreker. “Hallo, Meneer.” 
“Meneer Theron, ek sien op die live location julle is darem amper uit die stad?” 
“Ja, ons vorder goed. Die kinders hou die nuus dop en sê ons is nou byna uit die gevaarsone. Dit het nou amper ophou reën ook.” 
“Dit klink darem beter as wat ek verwag het.” 
Meneer kug en gee ’n laggie. “Ja, mens skrik nogal, maar ek sal eerder oorversigtig wees as dit kom by ons kinders se veiligheid.” 
’n Veraf dreuning laat Chloe frons. Was dit donderweer? Of reën dit weer harder?
Meneer en die skoolhoof gesels nog ’n rukkie, maar sy gee nie aandag nie. 
Die lig word groen en Meneer ry vorentoe. Die volgende bruggie, in ’n stukkie groen bos, is nie ver voor nie. ’n Dun stroompie water loop oor die brug en Meneer ry stadiger, maar hy stop nie. Dit lyk nog veilig; die ander karre ry stadig oor.
“Ek sal Juffrou vra om Meneer op hoogte te hou,” sê me¬neer Theron oor die foon. “Sien dan later. Totsiens.” 
Dante kyk by die venster uit en sit meteens regopper. “Julle …” 
“Wat nou, Dante?” sug Mbali. 
Die dreuning word harder. Ver weg hoor Chloe karre se toeters en haar maag is skielik hol. 
Briekligte verskyn voor hulle en meneer Theron kom sta-dig op die brug tot stilstand. 
“Nou wat nou?” mompel hy. 
“Julle!” skree Dante. 
Chloe se kop ruk regs. Sy kyk aan Dante se kant by die venster uit. 
Sy het drie sekondes om te verwerk wat sy sien. 
Een. Die riviervlak reg onder die brug klim so vinnig dat dit binne ’n paar sekondes vir haar sigbaar is. 
Twee. ’n Enorme golf bruin rivierwater kom reguit op hulle af. Seker maklik drie meter hoog, teen ’n spoed wat haar asem steel. Klein boompies, groot takke, bande, tuin-toerusting … Die rivier is ’n maalkolk van rommel. 
Drie. Die geluid van glas wat breek. Dante gooi sy lyf oor hare, gryp Mbali aan die arm en ruk hulle af vloer toe op dieselfde oomblik wat Juffrou gil en Meneer roep: “Hou vas!” 
Toe tref die bruin golf die bussie.

bottom of page