top of page
20221106_131241130_iOS_edited.jpg

Hallo daar!

My naam is An-Mari, en boeke is van kleins af my grootste liefde. Soveel so, dat ek dit my hele lewe gemaak het. Bedags werk ek as redakteur en na-ure probeer ek om al die stories in my kop neergeskryf te kry. Tussendeur help ek ander skrywers om hulle manuskripte te ontwikkel. Ek is outisties, het ADHD en is passievol oor neurodiversiteit en mental health.

Skrywersbiografie

An-Mari do Carmo is ’n bekroonde skrywer, redakteur en boekwurm. Sy het as ’n tuisskoolkind op ’n plaas in Noordwes grootgeword, en het elke week twaalf boeke by die dorpsbiblioteek uitgeneem én gelees. Haar liefde vir lees het vinnig ook omgesit in ’n liefde vir skryf. Sy het haar graad in BA Taal en Literatuurstudie by die NWU-Potchefstroom behaal, met ’n fokus op Skryfkuns. Daarna het sy vir ’n ruk in Frankryk Engels gegee voor sy met haar droomwerk as kinder- en jeugboekredakteur begin het.

Haar ongewone grootwordjare as deel van die KwaSizabantu Sending-kultus het aanleiding gegee tot die skryf van haar debuutjongvolwasseneverhaal, Toe als groen was (2022), wat met die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir debuutwerk bekroon word. Beide hierdie boek en haar tweede jeugverhaal, Foto’s en fairy lights (2024) slaan ook ATKV Kinderboektoekennings los.

As ’n outistiese vrou met ADHD is sy baie passievol oor neurodiversiteit en geestesgesondheid. Buiten boeke het sy baie spesiale belangstellings, soos cosy gaming, bak, goeie koffie, fotografie, skryfbehoeftes versamel, disaster movies en honde-opleiding. Haar geloof is ook vir haar uiters belangrik. Tans bly sy in Klerksdorp saam met haar man, Walter, en hulle hondekinders.

bottom of page