Om 'n boek te skryf is nog my hele lewe lank my grootste droom. Boeke was my beste vriende as kind - iets waarmee die meeste introverte kan identifiseer! Voeg daarby nog 'n plaas en tuisskool, en daar is An-Mari - 'n skamerige kind wat haar in boeke uitleef. Ek het vinnig-vinnig die res van my gesin se biblioteekkaartjies gekonfiskeer sodat ek elke week twaalf boeke uitgeneem het, en myself dan in my kamer toegemaak het met my nuwe skatkis.
Ek was omtrent nege toe ek self begin stories skryf het. Ek het deur 'n vreeslike perdefase gegaan, so al my stories was oor perde en die meisies wat hulle ry. Al die grootmense om my het gedink ek is vreeslik oulik, en op hulle aanmoediging het ek my stories vir uitgewers gestuur. Ek het 'n baie gawe afkeurbriefie van LAPA Uitgewers gekry wat my aangemoedig het om aan te hou skryf. Toe ek ouer geword het, het ek fanfiction begin skryf - oor The Hardy Boys en Nancy Drew, nogal. En toe begin ek gedigte skryf. Vreeeeeslike dramatiese goed, tipies tiener, maar hier en daar is 'n paar waarop ek nogal trots is.
In Graad 10 het my wêreld verander. Ons was nog my hele lewe lank deel van die KwaSizabantu (KSB) Sending in KZN, en al het ons ver gebly het ons gereeld soontoe gegaan en ek is geleer om als te glo wat hulle verkondig en al die reëls na te volg. Ek mag nie met seuns praat nie. Ek mag nie broeke of juwele of grimering dra nie. Ek mag nie wêreldse musiek luister nie. Ek mag nie sosiale media hê nie. Die lys gaan aan. Maar in Graad 10 het ek besluit om Domino Servite School (DSS), die sendingskool, by te woon. Ek het myself al baie afgevra wat my laat besluit het om te gaan. Die grootste rede is seker dat ek op daardie stadium beplan het om 'n onderwyser te word, en omdat ek nog altyd tuisskool gedoen het wou ek darem 'n "regte" skool beleef - maar ek wou nie na 'n "wêreldse" skool toe gaan nie. Ek dink 'n deel van my het gehoop om DSS toe te gaan sal my beter maak, heiliger maak. Want, jy sien, ek het nooit, ooit, gevoel ek is goed genoeg nie.
Dis eers toe ek DSS begin bywoon en op KSB self bly, by my ouma, dat ek besef het hoeveel vryheid ek eintlik gehad het op die plaas. Stadig maar seker het ek begin besef dinge is nie heeltemal soos dit voorkom nie en ek het baie ongemaklik begin raak met van die reëls en die manier hoe hulle optree. Maar, soos ek geleer is om te dink, het ek altyd gedink die fout lê by myself. Ek is te rebels. Ek buig nie. Ek is vol twyfel. Ek is nie goed genoeg nie. Daardie drie jaar op die sending het my verander van 'n redelik gelukkige boekwurm tot 'n diep depressiewe tiener.
Die jaar na skool was een van die moeilikste jare in my lewe. Ek het 'n gap jaar gevat en was weer terug in my ouerhuis, maar met soveel vrae en twyfel en onsekerheid oor KSB. Dit het gevoel asof alles waarop my lewe gebou was besig was om uit mekaar te val en ek het nie geweet wat om te doen nie. Ek het geweet ek wil wegbreek van KSB af, maar ek was te bang vir die gevolge. Ons is van kleintyd af vertel hoe kinders wat weggaan se lewens uitmekaar uit val; hoe hulle op die straat eindig en dwelmverslaaf word. Ons is vertel hoe ouers alle kontak breek met hulle kinders wat weggaan. Ek was doodbang en vasgevang in 'n situasie wat my al hoe meer aan selfmoord laat begin dink het.
En toe gaan studeer ek. In 2015 het ek by die NWU-Pukke begin swot vir my BA in Taal- en Literatuurstudie, met Skryfkuns as my hoofvak. Uiteindelik kon ek my liefde vir skryf en boeke begin uitleef! Maar nog meer as dit - ek het by 'n ander kerk aangesluit. Ek het vriende gemaak met ander jongmense wat die Here liefhet, ander mense wat deel was van KSB maar uitgekom het. Dít het my lewe op soveel maniere verander. Ek het die Bybel begin studeer en ek het die Here - die ware Here, nie die God van KwaSizabantu nie - leer ken. En Hy het my bevry.
Aan die skryfkant het my drome om 'n digter te word in die slag gebly na 'n semester digkuns, maar ek het ook besef daar is 'n storie in my wat vertel moet word. My Skryfkuns dosent was een van die eerste mense wat my aangemoedig het om die storie van KSB te skryf. Maar ek was nog nie reg nie.
So het die tyd aangegaan. Ek het verlief geraak, gegradueer, getrek, in Frankryk gaan werk, getrek, my droom om 'n kinderboekuitgewer te word vervul, getrek, 'n pandemie oorleef, verloof geraak, getrek, en getrou. En toe tref die Groot Depressie.
In die middel van verlede jaar het my depressie 'n punt bereik wat ek nie verder kon ignoreer nie. Vir die eerste keer was my depressie nie net besig om my te affekteer nie, maar ook my man en my splinternuwe huwelik. Ek was volkome uitgebrand na die voorafgaande jaar se trek en troue reël en al die veranderinge in my werksplek, en 'n oormaat stres en druk het als veroorsaak dat ek in 'n diep, donker gat beland het waaruit ek nie kon kom nie. Ek het hulp nodig gehad.
Te danke aan my dokter, 'n sielkundige, my man, my kerk en bowenal die Here het ek lewendig aan die ander kant uitgekom ... en só is Toe als groen was gebore. Ek het geweet: nou moet ek skryf. Ek het voor my rekenaar gaan sit en binne 'n maand 75 000 woorde geskryf. Ek kon nie ophou nie; dit was asof iets my dryf om hierdie storie te skryf. Dit was terapie. Dit was marteling. Dit was nodig.
Toe als groen was is gebaseer op my eie storie, ja, maar ook die stories van so baie ander wat nooit 'n stem gehad het nie, of nie daaroor kan praat nie, of stilgemaak word.
Die boek is Junie op die rakke. Ek hoop jy lees dit. Ek hoop die regte mense lees dit - en dat dit iewers vir iemand 'n verskil kan maak.
An-Mari
Ek sien met GROOT verwagting daarna uit om jou boek te lees; klaar bestel.
Ek was v 1988 - 2000 betrokke by KSB, 7jr daarvan as "co-worker" (gebruik doelbewus Eng)
Danilla Pretorius
Dit klink rou en asof jou storie nog vir baie mense gaan moed gee! Om met soveel moed so groot gedeelte van jouself te ontbloot is iets om na op te kyk. Ek sien uit om die boek te lees. Sterkte met die pad wat jy stap! Min mense in braaf genoeg om dit waardee hulle gaan met onder te deel. Dankie vir jou braafheid! Elsabé
A-M. Jy inspireer my. Ek staan in verwondering oor alles wat jy deurgemaak het - en waar jy vandag is. En dat jy deur dit alles, jou geloof in 'n liefdevolle Vader k9n behou.
My boek op bestelling. Kan nie wag om dit te lees nie.
Baie sterkte met die nuwe (groener) hoofstuk in jou lewe.
Awesome. Annerle.