
Grootword en oudword is ’n konstante ontdekkingsreis na jouself, het ek al lankal besef. Mens sou dink teen die ryp ouderdom van 28 ken ek myself al redelik goed, maar vroeër hierdie jaar het ek iets omtrent myself uitgevind wat alles verander het. Dit het verander hoe ek my verlede sien, hoe ek my teenwoordige ervaar, en hoe ek my toekoms beplan.
Ek is outisties.
Maar kom ek begin by die begin. Die begin van hierdie ontdekking, ten minste.
Die feit dat ek aan depressie ly is niks nuut nie; almal wat my ken weet dit al. Ek is in 2021 amptelik gediagnoseer, het behandeling gekry en my debuut het uit die Groot Depressie sy verskyning gemaak.
En tog was dinge nog steeds nie heeltemal lekker nie. Die medikasie het verskriklik baie gehelp vir my emosionele welstand en ek was dadelik baie meer stabiel, maar daar was nog steeds goed wat ek nie lekker onder die “depressie”-sambreel kon verduidelik nie. My sensitiwiteit vir geluide, byvoorbeeld: die feit dat geraas my wil laat weghardloop en in ’n kas wil laat wegkruip. Die sosiale angs wat voel of dit net erger en erger word, al lyk dit vir ander mense asof ek gemaklik is tussen skares en op 'n verhoog. Hoe ongelooflik angstig chaos en veranderings my maak. Almal sukkel met hierdie dinge, het ek gedink, so hoekom kan ek dit nie hanteer nie? Ek is te swak, te stukkend vir hierdie wêreld.
Een van my gunsteling Maggie Stiefvater-aanhalings bly in my gedagtes wemel: “You are made of dreams and this world is not for you.”
Vroeg in 2022 maak ’n vriendin ’n Facebook-plasing om haar nuus te deel: sy is gediagnoseer as outisties. Ek lees haar plasing met ’n frons. Sy lyk dan nie outisties nie. Die goed wat sy vertel klink dan vir my als so … normaal. Relatable, selfs. Almal sukkel dan met die dinge waaroor sy skryf - ek doen, altans.
Die volgende paar maande hou ek nuuskierig haar plasings dop om meer te leer oor wat outisme presies is, want ek besef vinnig my kennis daarvan is beperk tot stereotipes op TV en stories oor drie-jarige seuntjies wat in ’n hoekie sit en wieg en skree as iemand aan hulle probeer raak. En terwyl ek haar plasings dophou, kom ’n ongemaklike gevoel in die krop van my maag sit: ek relate dalk ’n bietjie té veel met alles wat sy plaas.
Die dag toe sy hierdie prentjie, Autism signs in adults that may have been missed as kids, plaas en ek amper elke liewe een kan afmerk, dring die besef uiteindelik deur: is ek … outisties? Ek stuur dadelik vir die vriendin ’n boodskap en vertel haar wat ek vermoed, maar ek wil ook nie daai persoon wees wat haarself met alles diagnoseer net om simpatie of aandag te kry nie – so ek vertel niemand anders nie. Iewers in my brein is daar ook nog die valse idee dat dit 'n skande is om outisties te wees. My vriendin begin om vir my allerhande artikels en inligting aan te stuur en hoe verder ek lees, hoe meer besef ek: hierdie goed beskryf my. Dis ék.
Maar nee, besluit ek, ek verbeel myself net. Ek soek nou net aandag. Ek maak alles op. Dis nie so erg nie. Ek is nou sommer simpel. So ek ignoreer dit en gaan aan met my lewe … maar elke keer wat my vriendin weer iets plaas oor outisme gaan kyk ek en word weer herinner aan wat ek eintlik probeer vermy.
Tot een aand, einde verlede jaar, toe ons kerk se Bybelstudiegroep by ons is. Dit was ’n groot groep daardie aand, en dit was die einde van die jaar so ek was al reeds op die punt van uitbranding, maar ek speel gasvrou en hardloop rond om alles reg te kry. Daar is baie mense in my huis. Daar is klein kindertjies wat heeltyd aan my vat en aan my wil hang. Die hond blaf aanhoudend oor al die mense wat hier is. Ek maak koffie en tee en kos en probeer almal akkomodeer. Almal praat gelyk en bo-oor mekaar. Ek probeer reëlings tref vir ’n vroue-oggend maar kry nie ’n woord in nie want almal praat bo-oor my en die kinders skree en die hond blaf en daar is net soveel geluide en bewegings en alles raak te veel. Angs bou en bou in my op en paniek dreig om my te verdrink en ek weet tot vandag toe nie hoe ek alles ingehou het tot die mense gery het nie. Dekades se oefening, seker maar. Maar toe hulle ry en ek alleen in my donker kantoor gaan sit met bewende hande en brandende longe en probeer om net asem te haal weet ek finaal: ek moet met iemand hieroor praat. Dis nie “normaal” nie, en almal voel definitief nie so nie.
Ek vertel toe my man en 2 van my naaste vriendinne wat ek vermoed en ek kontak die Neurodiversity Centre vir ’n evaluering via Zoom. Die NDC is ’n multi-dissiplinêre sentrum wat spesifiek fokus op verskillende vorms van neurodiversiteit, soos outisme, ADHD, disleksie, OCD en so aan. Ek sal hulle enige tyd vir enigiemand aanbeveel wat vermoed dat hulle (of hulle kind se) brein dalk bietjie anders as die tipiese werk.
Deur die loop van die volgende paar maande het ek ’n hele paar sessies met ’n sielkundige gehad waarin sy my evalueer het volgens die RAADS of RITVO toets vir volwassenes wat moontlik ongediagnoseerde outisme het. Dit was ’n emosionele en baie revealing proses gewees en hoe verder ons gegaan het, hoe meer het ek geweet: ek is outisties. Hoe meer navorsing ek gedoen het, hoe meer sin het alles begin maak. Ek het geleer dat vrouens baie later, indien enigsins, gediagnoseer word as mans omdat daar meer navorsing op seuns gedoen is, en omdat vrouens baie beter met masking is. Ek het besef dat die goed waarmee ek sukkel nie goed is waarmee almal sukkel nie; dat dit nie net ’n geval is daarvan dat almal anders die lewe beter as ek hanteer nie.
Nie almal raak bitsig en geïrriteerd met ander mense net omdat hulle daai dag 'n hemp aan het wat ongemaklik sit nie.
Nie almal sukkel om besluite te maak in ’n winkel omdat daar te veel mense om hulle is wat gesels nie.
Nie almal wil uit hulle vel uit kriewel as iemand wat hulle nie so goed ken nie vir hulle 'n drukkie wil gee nie.
Nie almal voel of hulle deur die dal van doodskadu beweeg elke keer as hulle die huis moet verlaat nie.
Nie almal kry ’n paniekaanval elke keer as hulle selfoon lui, of as iemand hulle vra om vinnig saam dorp toe te gaan, of as hulle ’n fout maak by die werk, of as hulle onverwagse kuiermense kry nie.
Nie almal bestudeer nuwe mense en nuwe plekke so deeglik dat hulle hul gedrag kan ‘copy’ en seker maak hulle pas in nie.
Nie almal het intense belangstellings wat hulle lewe tot só mate oorneem dat hulle oor niks anders kan praat of dink nie.
En tog, ten spyte van alles wat ek gelees en geleer het, was daar ’n irrasionele vrees wat kopuitgesteek het en my net nie wou laat gaan nie: wat as ek NIE outisties is nie? Wat as als net in my kop is? Wat as ek net oorreageer? Want as ek nie outisties is nie … wat dan? Dan is ek net stukkend. ’n Boggerop. ’n Gemors.
Toe die amptelike diagnose op 8 Februarie kom was dit ’n verligting en ’n bevestiging. Ek dink nie dis iets wat sommer enigiemand sal verstaan nie: die enorme verligting van die woorde: jy is outisties.
Skielik het alles sin gemaak. Ek het geweet hoekom ek is soos ek is. Ek is nie stukkend nie. Ek is nie ’n screw up nie. Ek is nie ’n probleem nie. Ek is net outisties.
Dit beteken nie alles is nou skielik makliker nie. Inteendeel, noudat ek meer bewus is van wie ek is en hoe my brein werk, is dit dikwels asof dinge my nou erger affekteer omdat ek weet dit affekteer my. Dis nogal bietjie my eie doring in die vlees, soos Paulus in 2 Kor 12 beskryf. Ek sal eerlik wees, partykeer haat ek hoe my brein werk: hoe vinnig ek oorweldig word, hoe emosioneel ek soms reageer, hoe dit my beperk en soms verhoed om dinge te doen wat ek wil doen. Maar dan word ek ook herinner: die Here het 'n spesifieke doelwit vir my hier op aarde. Ek glo my roeping is om te skryf, en die Here het my toegerus om 'n skrywer te wees - nes ek is.
Wat my diagnose wel beteken, is ek moet nou werk insit om myself beter te verstaan, om verhoudinge te help herstel, om my emosies en energievlakke beter te reguleer. Ek moet ongemaklike waarhede face oor my eie beperkinge want ja, ek het beperkinge. Outisme klassifiseer as ’n disability, en daar is sekere dinge wat vir my bitter moeilik is om te doen. Ek moet nou allerhande stereotipes en goedbedoelde-maar-oningeligte comments aanhoor. Die meeste van die tyd moet ek vir elke persoon vir wie ek vertel ek is outisties eers verduidelik wat presies dit is en hoe dit my affekteer, want ek “lyk nie outisties nie”. Dan moet ek eers vir hulle verduidelik: mens noem dit ‘masking’ en dis ongelooflik uitputtend. Ek moet vir mense verduidelik dat die spektrum nie beteken party mense is "meer outisties" en "minder outisties" nie, maar dat dit slegs verwys na die unieke versameling kenmerke wat elke outistiese persoon het. (Lees gerus hierdie artikel vir meer inligting daaroor.)

Maar noudat ek weet, kon ek begin om dinge in plek te sit om die lewe vir my bietjie makliker te maak. Ek het heeltemal opgehou om klere te koop of dra wat ongemaklik is: wat krapperig is of iewers skeef trek of te styf sit. Ek lewe in leggings en groot, sagte t-hemde (of hoodies wat ek uit my man se kas uit steel). Ek dra heeldag my oorfone, selfs in die winkels, want dit skakel baie van die oorweldigende sensory input uit, en om musiek te luister help om die geraas in my eie kop bietjie sagter te maak. Ek het meer fidget toys aangeskaf om my hande besig te hou. Ek sê meer gereeld ‘nee’ vir uitgaan of sosiale situasies as ek weet my energievlakke is laag. Ek ‘unmask’ by mense saam met wie ek veilig voel: by hulle onderdruk ek nie my natuurlike opwinding of weirdgeid of my ‘stims’ nie. Ek laat myself toe om meer vrae te vra as ek iets nie verstaan nie, in plaas daarvan om net te maak of ek verstaan sodat ek nie dom voorkom nie. Ek probeer om nie skuldig te voel as ek meer moet rus nie. Ek maak seker dat ek my “battery herlaai” as ek weet daar kom later iets wat baie energie gaan tap, soos 'n groot sosiale geleentheid. Saterdae gaan ek amper nooit uit die huis uit nie, sodat ek kan herlaai ná die werksweek en vóór kerk Sondag. Ek fokus op my sterkpunte, soos kreatiwiteit en struktuur skep en pattern recognition, om werk vir myself makliker te maak.
Ek het 'n ongelooflike groepie vriendinne, my ondersteuningsnetwerk, wat ook almal outisties en/of ADHD is. Ons deel spesiale belangstellings, soos boeke, en ons beoefen virtuele body doubling om ons te help om ons werk gedoen te kry deur die week. Ons verstaan mekaar op 'n vlak waarop niemand anders ons verstaan nie, want (soos ons gereeld grap) ons "deel 'n brein". Ons is nie almal dieselfde nie, inteendeel: elkeen van ons het 'n unieke versameling van outistiese kenmerke op die wye spektrum. Maar ons verstaan mekaar op 'n dieper vlak, en ons verstaan en respekteer mekaar se unieke benodighede. Ons is vir mekaar 'n "safe space" waar ons eenhonderdpersent onsself kan wees, of leer om onsself te wees ná dekades van 'masking', sonder om mekaar te oordeel.
Ek is besig om baie dele van myself te ontdek wat ek vir jare en jare onderdruk het, en om myself toestemming te gee om te wees wie die Here my gemaak het. Om outisties te wees is nie 'n skande nie. Dis nie 'n straf nie. Dis nie slegte nuus nie. Dis nie 'n doodsvonnis nie. Dis net wie ek is.
Om outisties te wees, is nie die einde van die wêreld nie. Vir my is dit net die begin.
Ek wil my stem en platform as skrywer gebruik om mense, veral vrouens en meisies, te bemagtig om hulp te kry as hulle vermoed hulle het dit nodig. Daar is inligting beskikbaar, maar dis nie sigbaar en toeganglik genoeg nie. Selfs in ons moderne eeu is daar nog soveel verkeerde aannames en idees oor wat outisme is en hoe dit mense affekteer. Ek wil inligting versprei en mense wys hoe lyk my lewe as 'n outistiese vrou - en ek wil ander mense bemagtig om hulleself te wees. Om die mens te wees wat die Here jou gemaak het.

Comments