top of page

Perspektief: hoe om te kies en algemene foute om te vermy

Writer: An-Mari do Carmo
An-Mari do Carmo
Oct 14
10 min read

Updated: Oct 15


Wanneer mens begin skryf is daar ’n paar belangrike elemente wat jy moet baasraak, soos plot, karakters en ruimte. Maar een wat dikwels oorgeslaan word is perspektief; ook bekend as fokalisering of point of view (POV). Dis een van die moeilikste en tog belangrikste dinge om te leer ken, en kan ’n baie groot impak hê op jou leser se ervaring met jou storie.

 

Wie se storie is dit?


Perspektief beteken uit watter karakter (of karakters) se oogpunt die storie vertel word. Wie is die verteller of, om die tegniese term te gebruik, die fokaliseerder?

 

My gunstelingmanier om dit te beskryf is om daaraan te dink as fotografie. Jy, die skrywer, is die fotograaf. Jou karakter is die kamera, oftewel die lens, deur wie jy die onderwerp (die storie) uitbeeld. Jou leser kan net sien wat jy hulle deur die lens van die verteller se perspektief wys. Hulle kan nie sien wat rondom die kamer aangaan nie. As jy dit heeltyd in gedagte kan hou terwyl jy skryf, sal jy al klaar op die pad van sukses wees.



Verskillende soorte perspektiewe


Ons almal leer op skool van die verskillende vertellers: eerste-, tweede- of derdepersoon. Wanneer jy skryf, bou jy verder daarop.

 

Eerstepersoonsperspektief (ek, my, ons)


Voorbeeld: Toe als groen was deur An-Mari do Carmo

Wat de duiwel het my besiel?
Ek staan voor die hek van Klerksdorp se Hoërskool Wesvalia en voel hoe die angs in my keel opstoot. Wat maak ek hier? Wat het ek gedink?

 

’n Eerstepersoonverteller is baie intiem en skep dadelik ’n band tussen die leser en karakter. Dis ’n baie algemene keuse, en voel ook vir baie skrywers natuurlik en maklik om te skryf – veral vir nuwer skrywers. Ek het dit self in my eerste boek, Toe als groen was, gebruik omdat dit ’n baie persoonlike boek is wat gebaseer is op my eie grootwordjare.


Dis ’n baie goeie keuse vir sterk karaktergedrewe stories, en is algemeen in sekere genres soos liefdesverhale, fantasie met sterk romantiese temas (soos romantasie), jongvolwassenefiksie en natuurlik niefiksie soos memoirs en outobiografieë.


Daar is sekere gevare om in gedagte te hou. Dis ’n baie beperkte verteller want jy is diep in die karakter se kop, so inligting moet op vindingryke maniere oorgedra word. Daar is ’n risiko van wys in plaas van vertel, en skrywers moet ook oppas vir ’n “author insert” waar jy as die skrywer te diep in die storie betrokke is. In Afrikaans is daar natuurlik ook die feit dat fiksie in die teenwoordige tyd geskryf word, wat dit ongeloofwaardig kan maak as ’n karakter dinge “neerskryf” soos dit gebeur.

 

Derdepersoonsperspektief – beperk (sy, hy, hulle)


Voorbeeld: Foto’s & fairy lights deur An-Mari do Carmo

“Gaan jy my nou vertel wat aangaan, of moet ek dit uit jou uit martel?”
Elzandri wip van die skrik toe haar ouer niggie skielik dreigend bo-oor haar kom staan met haar hande op haar breë heupe. Sy druk haar selfoon vinnig onder haar boud in.
“Niks,” sê sy in ’n flou stemmetjie. “Niks gaan aan nie, nig.”
“H’mm.” René gluur haar aan terwyl sy op die ander bed in Elzandri se solderkamer neersak, haar rug teen die muur gestut. Die kwaai kyk in haar skerp blou oë word beklemtoon deur haar nog skerper eyeliner.

 

Hierdie is waarskynlik die mees algemene en gewilde keuse vir moderne en kommersiële fiksie. Amper net so intiem soos eerstepersoon, maar minder direk en met effens minder beperkings.


Dit kan, soos eerstepersoon, in enige genre gebruik word, maar is mees algemeen in sterk plotgedrewe fiksie soos epiese fantasie, wetenskapfiksie of fiksie met veelvuldige vertellers (meer daaroor later).

 

Derdepersoonsperspektief – alomteenwoordig


Voorbeeld: Pride & Prejudice deur Jane Austen

Mr. Darcy soon drew the attention of the room by his fine, tall person, handsome features, noble mien, and the report which was in general circulation within five minutes after his entrance, of his having ten thousand a year. The gentlemen pronounced him to be a fine figure of a man, the ladies declared he was much handsomer than Mr. Bingley, and he was looked at with great admiration for about half the evening, till his manners gave a disgust which turned the tide of his popularity; for he was discovered to be proud; to be above his company, and above being pleased; and not all his large estate in Derbyshire could then save him from having a most forbidding, disagreeable countenance, and being unworthy to be compared with his friend.

 

Hierdie perspektief is nie beperk tot een karakter se oogpunt nie, maar weet alles en sien alles. Dis baie algemeen te vinde in klassieke werke, ouer fiksie en kinderfiksie, of literêre werke, maar word deesdae as baie verouderd gesien en skrywers van kommersiële en lekkerleesfiksie word oor die algemeen aangeraai om dit eerder nie te gebruik nie.


’n Groot rede hiervoor is dat dit keer dat die leser kan identifiseer met die karakters. As leser is jy nie in die karakter se kop nie, maar eerder in ’n eksterne verteller s’n – en dit bring verwydering tussen jou en die storie.

 

Tweedepersoonsperspektief (jy, jou, julle)


Voorbeeld: Complicity deur Iain Banks

You hear the car after an hour and a half. During that time, you’ve been here in the darkness, sitting on the small telephone seat near the front door, waiting. You only moved once, after half an hour, when you went back through the kitchen to check on the maid.

 

Tweedepersoonperspektief is ’n spesiale tipe verteller wat net in sekere gevalle vir spesifieke redes gebruik word. Dit skep baie intimiteit en sit die leser onmiddellik self binne-in die storie, maar dit het heelwat risiko’s. Dit kan vermoeiend wees om te lees, en dit kan ook jou leser ontstig as hulle nie kan identifiseer met die verteller se dade en woorde nie. Nie almal sal byvoorbeeld daarvan hou om te lees hoe hulle "self" moord pleeg nie.


Tweedepersoon word algemeen gebruik op sosiale media (soos “POV”-videos) en ander kort vorms van skryf. Dit word ook soms in meer literêre of eksperimentele fiksie gebruik. My persoonlike gunstelinggebruik van hierdie perspektief is in “Kies-jou-eie-avontuur”-verhale, waar die leser sekere keuses kan maak wat die storie beïnvloed. Ek het dosyne sulkes gelees as ’n kind – en dis ’n baie lekker interaktiewe ervaring.

 

Onbetroubare verteller


Bekende voorbeelde:

  • Gone Girl deur Gillian Flynn

  • The Girl on the Train deyr Paula Hawkins

  • The Catcher in the Rye deur J.D. Salinger

  • The Great Gatsby deur F. Scott Fitzgerald

 

Hierdie is nog ’n spesiale soort verteller wat baie versigtig gebruik moet word, maar baie pret kan wees om te skryf en te oefen. ’n Onbetroubare verteller is gewoonlik eerste persoon, en word gekenmerk deurdat hulle weergawe van die storie nie noodwendig die volle waarheid is nie.


’n Onbetroubare verteller mislei die leser – soms aspris, soms onwetend. In ’n krimi kan dit byvoorbeeld ’n moordenaar wees wat blatant vir die leser lieg, maar in ’n psigologiese riller kan dit dalk ’n verteller wees wat aan hallusinasies lei en self nie eers weet dat wat hulle sien, nie werklik is nie.


Hierdie tipe verteller moet baie versigtig gebruik word, want dit kan jou leser vervreem. Mense wil nie gewoonlik gekul voel nadat hulle ’n boek gelees het nie, so as skrywer moet jy dit nie net gebruik omdat jy dink dit kan pret wees nie.


Daar is natuurlik ’n argument wat gemaak kan word dat alle vertellers onbetroubaar is omdat hulle net hulle weergawe van die storie vertel ... maar daaroor kan mens apart filosofeer!

 

Enkelverteller vs veelvuldige vertellers


Teen die tyd wat jy begin skryf, het jy waarskynlik reeds jou hoofkarakter(s) leer ken. Dis die antwoord op die vraag wat ons heel in die begin gevra het: “Wie se storie is dit?”


Die belangrikste ding om te oorweeg is wie se perspektief die grootste impak op die storie gaan hê. As jy ’n krimi skryf, gaan die leser dit nie baie interessant vind om die hele storie te lees uit die perspektief van iemand wat net in die koerant oor die moorde lees nie. Dit sal veel interessanter wees uit die perspektief van die ondersoekende speurder, ’n slagoffer of die moordenaar self.


Die antwoord op bogenoemde vraag kan natuurlik ook méér as een karakter wees, dan kan mens kies om veelvuldige vertellers te gebruik. Baie romanses word vertel uit beide die man en die vrou se perspektief. In epiese fantasie is daar gewoonlik ’n paar vertellers, veral as daar op verskillende plekke in die fantasiewêreld gelyktydig groot gebeure aan die gang is.

 

’n Paar baie belangrike dinge om in gedagte te hou as jy wissel tussen vertellers:

  • Wanneer jy ’n nuwe toneel of hoofstuk begin, vra jouself uit wie se perspektief dit die interessantste gaan wees om te lees.

  • Net een karakter kan fokaliseer op ’n slag. Jy kan nie deur twee kameras gelyk afneem nie.

  • Die algemene reël is een fokaliseerder per toneel of, nog beter, een per hoofstuk.

  • Onderskei altyd die perspektiefwisseling met ’n lynbreuk en nuwe paragraaf, of ’n nuwe hoofstuk. Party skrywers sit onderaan elke hoofstuknommer die naam van die persoon wat fokaliseer.

  • Hou die konvensies van die genre waarin jy skryf in gedagte. Vir kinderfiksie, byvoorbeeld, is daar gewoonlik net een verteller – maar 2 of meer is aanvaarbaar in fiksie vir tieners of jongvolwassenes. Jou fokaliseerders sal egter almal kinders of tieners wees; dit word oor die algemeen nie aanbeveel om volwasse karakters se perspektiewe in kinder- of tienerfiksie te gebruik nie.

  • Elke verteller moet ’n unieke stem hê. Ideaal sal wees as jou leser kan identifiseer wie se perspektief dit is net deur die styl en woordkeuses. (Dis ook ’n goeie riglyn om in gedagte te hou vir dialoog.)

 

Algemene foute


Algemene foute met vertellers word gewoonlik “perspektiefbreuke” genoem, en daar is ’n paar verskillende maniere wat dit kan gebeur. Hou egter in gedagte dat, wanneer dit by kreatiewe skryfwerk kom, reëls dikwels gemaak is om gebreek te word. Jy moet wel eers die reëls en riglyne ken voordat jy dit op die “regte” manier kan breek. In sekere genres of met ’n alomteenwoordige verteller kan onderstaande foute dalk glad nie foute wees nie, maar oor die algemeen moet hierdie eerder vermy word.


Vir voorbeelde, kom ons skep ’n kort toneel van ’n vrou, Jessica, wat op ’n vliegtuig op pad is Kaapstad toe.

 

Foto deur Lai Man Nung op Unsplash
Foto deur Lai Man Nung op Unsplash

Head hopping


Jessica wikkel rond op haar sitplek in die vliegtuig. Sy wou eintlik langs die venster gesit het, maar daar was nie plek oor toe sy ingecheck het gister nie. Die man wat nou daar sit is dan heeltyd op sy rekenaar besig – dis nie asof hy die uitsig geniet nie!

Markus tik verbete voort aan sy voorlegging. Hy moes dit al gister klaargemaak het, maar die baba was siek en sy vrou het hulp nodig gehad. Nou is sy laaste kans voor die konferensie begin, en hy hoop net hy is wakker genoeg.

 

Head hopping is wanneer daar binne een toneel (soms binne een paragraaf) van een verteller na ’n ander gespring word. Skrywers doen dit om ander karakters se gedagtes oor te dra, maar dit kan die indruk skep dat die skrywer onervare of selfs lui is. Dit veroorsaak ook baie verwarring vir die leser, kan ’n whiplash effek skep, en ruk die leser uit die storie uit.


Dink eerder aan ’n ander manier hoe om daardie selfde inligting weer te gee sónder om te spring. In hierdie voorbeeld kan Jessica dalk ’n gesprek met Markus begin en dit deur dialoog uitvind, of sy kan raaksien dat hy gestres is of iets op sy skerm raaklees wat haar inlig waarmee hy besig is.

 

Die onkenbare


Jessica is verdiep in haar boek met oorfone in haar ore toe die lugwaardinne die trollie met eet- en drinkgoed in die gang begin afstoot. Hulle roep haar twee keer voor die een lugwaardin haar oë ongesiens rol en eerder die man by die venster se bestelling neem. Hulle is al so moeg vir passasiers wat nie aandag gee nie, en dan drie rye later wil hê hulle moet terugkom. Dis eers toe hulle vir die man langs haar sy koffie aangee dat Jessica wakkerskrik. Haar wange word rooi.

 

Hierdie voorbeeld wys wat mens “knowing the unknowable” noem in Engels. Dis nie dieselfde as head hopping waar iemand anders die fokaliseerder word nie, want dis nog steeds Jessica se perspektief – maar hoe weet sy wat in die lugwaardinne se kop aangaan? Hoe kon sy ’n ongesiene oogrol sien? En hoe weet sy haar eie wange word rooi?


Onthou, jou verteller kan net weergee wat hulle self kan waarneem en dink. Hulle kan nie ander se gedagtes lees of hulleself sonder ’n spieël sien nie. Sy kan wel, byvoorbeeld, voel hoe haar wange warm word.

 

Vertel in plaas van wys


Jessica is geïrriteerd want sy wou by die venster gesit het, maar nou sit sy in die middelste sitplek op die vliegtuig. Die man langs haar werk op sy rekenaar. Hy kyk nie by die venster uit nie. Hy is moeg.

 

“Wys in plaas van vertel” is een van die goue reëls van fiksie en verdien ’n hele blog-plasing op sy eie, maar dis die moeite werd om hier ook vinnig te noem. Jou verteller moet eintlik glad nie die storie vertel nie, maar moet dit eerder wys.


Jessica is geïrriteerd? > Sy skuif rond in haar sitplek en sug.

Die man langs haar is moeg? > Hy vryf kort-kort sy oë en drink baie koffie.

 

Voorspel die toekoms


Jessica kyk na Tafelberg in die verte terwyl sy by die vliegtuig se trappies afklim. Sy sien al so lank uit na hierdie wegbreek! As sy maar net geweet het hoe hierdie vakansie haar hele lewe sal verander.


In Die Afrikaanse Skryfgids noem Jeanette Ferreira dit “Min-het-sy-geweet-sindroom”, wat vir my ’n baie goeie beskrywing is. Party skrywers, veral jong of nuwe skrywers, gebruik dit om spanning of foreshadowing te skep, maar dit breek die perspektief omdat die verteller nie die toekoms kan voorspel nie. Dit kan ook gesien word as ’n voorbeeld van vertel in plaas van wys.

 

Skrywerinvoeging


By die bagasiesaal wag Jessica baie lank vir haar pers tas om te verskyn, maar toe dit eventueel uitkom is die zip gebreek en haar duur juwele weg. Dis ’n hartseer realiteit van ons samelewing dat mens se besittings sommer so maklik gesteel word.


In hierdie voorbeeld word Jessica, die verteller, se perspektief gebreek deur die skrywer wat kommentaar lewer. Daar is ’n magdom ander maniere hoe skrywers hulleself in die storie kan voeg, of die sogenaamde vierde muur breek. In kinderfiksie, byvoorbeeld, is onervare skrywers geneig om die lesers direk aan te spreek as “Liewe maatjies”, of te eindig met “En die lessie is ...” Sulke invoegings ruk die leser uit die storie uit en herinner hulle dat hulle besig is om ’n boek te lees.

 

Oefeninge


Soos met enige ander element van fiksie, is perspektief iets wat geoefen moet word. ’n Skryfoefening wat ek onlangs gegee het, is om ’n interessante foto van ’n groep mense te

soek, en dan een paragraaf uit elkeen van die karakters se perspektiewe te skryf.


Foto deur Andrii Solok op Unsplash
Foto deur Andrii Solok op Unsplash

Vra jouself af:

  • Wat dra elke karakter by tot die toneel wat anders is?

  • Wat sien/dink/voel een karakter waarvan die ander nie weet nie?

  • Hoe verander dit die leser se verstandhouding van die storie?

  • Hoe kan ek in Karakter A se perspektief wys wat Karakter B dink/voel sonder om die perspektief te breek?

  • Wie se oogpunt is die interessantste?

 


Bronne / Verdere leeswerk

·       Die Afrikaanse Skryfgids bladsy 27-34

 

Hierdie blog-plasing is oorspronklik aangebied as ’n aanlynpraatjie vir ’n skryfskool. Geen KI (kunsmatige intelligensie) is daarvoor gebruik nie. Kontak my as jy belangstel in soortgelyke praatjies oor hierdie of ander relevante onderwerpe!



Comments


bottom of page